50 Dae van Jubel in Gebrokenheid – week 3 #Vergifnis
50 dae van Jubel in gebrokenheid
Dit is Lydenstyd. Ons dink aan dit wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het. Dit vul ons met onuitspreeklike vreugde en dankbaarheid. Terselfdertyd raak ons gebroke as ons die seer en stukkendheid van mense en verhoudings rondom ons sien. En ons weet: ons Vader wil ons gebruik om in die voetspore van Jesus die wêreld te help heel maak. Dit is die Genadejaar, die Jubeljaar (vgl Luk 4: 18 – 19).
Ons 3de tema: #VERGIFNIS
In die kern van die herstel van verhoudings op alle vlakke, wat die jubeljaar wil laat gebeur, is dat ons ‘n lewe van vergifnis moet lewe.
Gestel jy sit elke Woensdag jou vuilgoedsakke uit net om dit vinnig terug te bring en in jou kombuis te hou. Dit gaan siek maak, en keer dat jy ordentlik kan kos maak en gesond lewe! Vergifnis werk net so. As jy dink jy vergewe iemand, maar jy sukkel om dit oor en verby te kry, hou dit jou terug: jy sukkel in jou persoonlike emosionele lewe, jy sukkel geestelik, jy voel net eenvoudig jy kan nie vorentoe gaan nie.
In die Jubeljaar moes die Israeliete mense kwytskeld van ‘n klomp oortredings, maw mense kans gee om met ‘n skoon bladsy te begin. Daarom moes hulle jubel, omdat hulle mense vrygemaak het van klomp skuldgevoelens, en self ook vrygeword het van ander mense se ‘dinge’ wat hulle gevange gehou het.
- Vergifnis begin nie by my nie, maar by God. Hy is die voorbeeld. Miga 7: 18: Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde.
- As ek self gaan probeer vergewe, gaan ek altyd sukkel. Dit is nie ‘n wet wat ek moet doen nie, maar iets wat ek moet doen omdat ek vergewe is, dws uit dankbaarheid.
- Vergifnis is nie op voorwaarde dat iemand skuld bely nie. Dit is meer ‘n ding oor myself as oor iemand anders. Dikwels moet ek myself, of vir God vergewe, voor ek iemand anders kan vergewe.
- Vergifnis is nie ‘n metodiese resep nie, maar ‘n geloofsreis waar ek baba-treetjies gee deur klein dade van liefde te doen. Dalk moet ek in hierdie Lydenstyd net eers een ‘vuilgoedsak’ in die vuilgoedblik gooi.
- Om te vergewe en te vergeet en te vertrou gebeur nie alles meteens nie: Vergifnis gebeur dadelik, en vergeet en vertrou is deel van hierdie geloofsreis.
- Biskop Tutu: Vergifnis beteken nie ek vergeet die verlede nie, maar ek onthou dit op ‘n manier wat my help om in die toekoms nie as ‘n gevangene te leef nie.
- Daar is nét vergifnis nodig waar daar onvergeeflike dade gedoen is. En juis dan vra Jesus: 70 x 7 keer!
- Vergifnis word ‘n plek waar 2 mense met mekaar se kwesbaarheid identifiseer.
Geselsvrae:
- Hoekom moet ons vergewe? Wat maak dat dit so moeilik is?
- Wat is die gevolge van onvergifnis? Wat is die gevolge van vergifnis?
- Wat is ‘n moontlike eerste stap op die pad na vergifnis?
Kyk: Just forgive: https://www.youtube.com/watch?v=1VUCK2MZty4