Hierdie week se tekste:

Psalm 4

Handelinge 3:12-19; 1 Johannes 3:1-7

Fokusteks: Lukas 24:36b-48

Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!” Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete. Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?” Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis. Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet. Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ Julle is getuies van hierdie dinge.

Dit is die laaste van drie opstandingsverskynings in Lukas (24:1-12 – aan die vroue; 24:13-35 – aan die Emmausgangers; 24:36-49 – aan die dissipels). Al drie episodes beklemtoon die noodsaaklikheid van Jesus se lyding en sterwe deur die gebruik van die emfatiese dei (“dit moet”). Die opstanding na Jesus se lyding en sterwe is God se reddingsplan, nie iets anders nie. Lukas se afsluiting vertel van Jesus se hemelvaart, waarna die dissipels Hom aanbid en in Jerusalem op die koms van die Heilige Gees wag (v 49 kyk vooruit na die uitstorting van die Heilige Gees; sien Hand 1:4-8; 2:33).