Hierdie week se tekste:

Psalm 23:1

Handelinge 4:5-12; Psalm 23; 1 Johannes 3:16-24

Fokusteks: Johannes 10:11-18

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ‘n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ‘n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ‘n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie. “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Die Johannesevangelie is gevul met “Ek is”-uitsprake van Jesus. Hier stel Jesus Homself bekend as die goeie herder. Hierdie uitspraak kom binne die konteks van Jesus se konflik met Joodse leiers, wat in die vorige hoofstuk die blinde man vir wie Jesus genees het uit die sinagoge geban het. Jesus stel Homself bekend as die ware Herder wat bereid is om sy lewe vir sy skape af te lê. Die godsdiensleiers het nie regtig omgegee of hulle hulle taak uitgevoer het nie (sien ook Eseg 34), maar Jesus maak in liefde bymekaar en pas op. Hierdie “skape” word ook ingetrek in die wederkerige liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun.