Preek Padkos – 9 Mei 2016
Pinkster 9 Mei 2016
Tema: Drie gebede wat ons te min bid
Jesus het meer gepraat oor hoe ons moet lewe, as hoe ons moet glo. En daarom probeer ons gewoontes aanleer wat vir ons help om vir Hom te lewe. Dalk is die uitdaging nie al die tekste van die Bybel wat ons nie verstaan nie, maar wel dit wat ons verstaan en nie doen nie! Ieman het gesê: Maturity is mastering the basics. Met eenvoudige gewoontes kry ons dit reg om te groei.
Die eerste gewoonte gaan oor gebed. Jesus self het dikwels gebid. Ons lees hiervan onder ander in Mark 1: 35: Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. In Matt 14: 23 lees ons: Nadat Hy die mense weggestuur het, het Hy alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen. Jesus het deur sy hele lewe gebid, ook voor sy grootste uitdaging aan die kruis in Getsemane. En as Jesus gebed nodig gehad het, hoeveel meer het ons dit nodig!
Daar is 3 soorte gebede wat belangrik is indien ons besluit om Jesus te volg:
- Stilword gebed
Jesus self het waarskynlik wanneer hy deurnag gebid het, nie heeltyd gepraat nie. Iemand noem op ‘n stadium dat – toe hy stil word in gebed – hy skielik ‘n voëltjie hoor fluit. Hy word toe daarop gewys dat die voëltjie waarskynlik heeltyd gefluit het. Hy het hom net nie gehoor nie. Net so werk God altyd en oral, ons moet net ingestel wees (deur soms ons eie geluide van ons stem minder te maak) en dan sal ons Hom hoor.
Ons hoef nie te dink dat God gaan opdaag wanneer ons oor en oor lofprysing doen en lank genoeg gesing het nie. Dit gaan oor ‘n ingesteldheid om bewus te wees van God wat fluister, dikwels in stilte. ‘n Joernalis het by geleentheid vir Moeder Theresa gevra wat sê sy vir die Here wanneer sy bid. “Niks”, het sy geantwoord, “Ek luister net.” “En wat sê God vir jou?”, wou die joernalis weet. “Ook niks nie, Hy luister ook”, het sy geantwoord. En toe voeg sy by “As jy dit nie verstaan nie kan ek jou nie verduidelik nie.” Gebed- veral stilgebed – bly ‘n misterie.
Daar is niks beter as om net by God te wees nie. Dit is meer werd as om baie raad by ander te ontvang.
- Gebed wat jou hart breek
Hierdie is ‘n gevaarlike soort gebed, want dit raak aan jou. Jaco vertel hy was by geleentheid saam met ‘n klomp jongmense in ‘n baba-saal van ‘n hospitaal. En elkeen het ‘n siek babatjie vasgehou. Toe hy moes bid, kon hy nie, want soos by elkeen van die jongmense het die trane by hom gevloei. Hulle harte was gebreek om die gebrokenheid van die wêreld te sien.
Waar ander godsdienste gemotiveer word deur skuldgevoelens, vrees, hoop vir beloning ens., word Christenskap gemotiveer deur iets heel anders: Paulus sê dat die liefde van Christus ons dring! Jesus wou nie nog ‘n goddiens begin het nie. Hy sê op ‘n stadium dat Hy nie offers soek nie, maar barmhartigheid.
Ons kan net dring word deur Jesus se liefde indien ons harte breek soos Jesus se hart gebreek het toe Hy op ‘n stadium na die skare wat Hom volg kyk en hulle innig jammer gekry het. Liefde maak ons weerloos, en ons moet so naby aan iemand wees dat liefde ons kan seermaak, dat ‘kieme’ van ‘n sieke as’t ware vat aan ons kan kry. Dan weet ons ons is naby genoeg om regtig te kan ervaar en beleef wat iemand ander beleef.
Besef ons straatkinders is net ……kinders? Of het ons al eelte om ons hart gekry? Want dan wil ons ‘n bedraggie inbetaal vir ‘n saak, maar nie te naby betrokke raak nie. Die sanger Leonard Cohen sing ‘n lied waarin hy sê: There is a crack, a crack in everything. That’s how the light gets in.
Wanneer Jesus in sy saligsprekinge sê dat die wat treur geseënd sal wees, is dit eintlik die teenoorgestelde van om hard te wees. God sê deur die profeet Esegiël aan sy volk dat Hy hulle ‘n hard van vleis sal gee en hulle harte van klip sal uithaal. Want ons moet treur saam met die wat swaarkry.
Ons harte móét breek!
- Gebede om aan te meld vir diens
Daar is dinge wat ons vir God vra, maar wat God eintlik vir ons vra.
Daar was ‘n klompie besigheidsmanne wat bymekaar gekom het om te bid vir nood wat hulle sien. Hulle hoor toe van ‘n vrou wat dit nie breed het nie, en wie se motortjie gesteel is. Hulle het vurig gebid dat die vrou ‘n ander motor moet kry. Niks het gebeur nie. Daar het toe níe ‘n motor uit die hemel by haar aangekom nie. Iemand wys die sakemanne toe daarop, dat die Here dit waarskynlik op hulle hart geplaas het, omdat hulle die antwoord op hulle gebede was! Na ‘n paar minute het een van die sakemanne aangebied om een van sy motors vir die vrou te gee. Daardie aand laat, toe die vrou die deur oopmaak en die sleutel ontvang, het sy ervaar haar gebede is verhoor deur iemand wat volgens God se wil opgetree het.
Dalk moet ons seker maak: wie bid vir wie! Wie praat met wie in ons gebede. Want daar is dinge wat ons vir God vra, wat Hy eintlik – in ons gebede – van ons vra!!! So gebed is om God se wil te leer ken!
Moeder Theresa het eenmaal gesê: “As jy vra hoekom is die kind voor jou honger, is dit waarskynlik omdat jy nog nie aan hom kos voorsien het nie!”
Wie se antwoord op gebed is jy?
Amen