Preek Padkos – Goeie Vrydag 2016
Goeie Vrydag
Die verhaal van Goeie Vrydag kom van die dag wat Jesus aan die kruis vasgespyker is, in my en jou plek. Daarom is dit ‘n Goeie Vrydag.
Dit was tydens die Paasfees, groot fees waar die Jode aan hul verlossing uit Egipte gedink het, dat Jesus gekruisig is. By daardie fees was dit die gebruik dat families ‘n paar dae voor die paasfees na die tempel toe moes gaan, en ‘n lammetjie moes koop, en dan vir ‘n paar dae saam met die lammetjie moes leef, met hom speel, vir hom sorg en vir hom lief raak. Dan, as die Paasfees aangebreek het, het die pappa van die gesin saam met die gesin na die priester toe gegaan en die lammetjie gaan offer. As die priester die lammetjie by die pa neem, het hy 3 keer gevra: het julle die lammetjie lief. En dan moes die pa antwoord: ja, ek het die lammetjie lief. As die priester dit geglo het, is die lammetjie geoffer, en die familie se sondes is vergewe. (Dit is terloops hoekom Jesus 3 keer vir Petrus gevra het of hy Hom liefhet, die Lam van God)
Jesus is gebore in Bethlehem, wat in Herbreeuws huis van brood en in Aramees huis van vleis genoem is, weens die koringlande en skape met skaapwagters. Tydens Paasfees moes elke familie ‘n lammetjie offer. Jesus was met ander woorde ook ‘n Lam, die Lam van God, uit Bethlehem, wat geoffer is, sodat ons wat ‘n groot geestelike familie is, se sondes vergewe kan wees. Daarom is dit ‘n Goeie Vrydag.
Skriflesing: Matt 27: 45 – 50
45.Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46.Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat? 47.Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.”
48.Een van hulle hardloop toe gou, vat ‘n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ‘n stok vir Hom om te drink. 49.Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”50.Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.”
Die somer van 1980 was ‘n tyd wat Miami in Florida nooit sal vergeet nie: opstande, rassespanning wat mense se emosies aan flarde gehad het, inflasie, werkloosheid, misdaad ens. Te midde van dit skryf die Miami Herald ‘n storie wat die mense se asem heeltemal wegslaan: dit is die storie van Judith Bucknell. Aantreklik, jonk, suksesvol, en dood. Haar moord was die 106ste daardie jaar, vermoor op ‘n warm 9 Junie aand. Ouderdom: 38, gewig: 59 kg, sewe keer met ‘n skerp voorwerp gesteek. Verwurg.
Wat dit nog meer merkwaardig maak was dat sy ‘n dagboek gehou het. As sy nie het nie, sou die gedagtenis aan haar saam met haar liggaam begrawe gewees het. Maar dit het bestaan: ‘n pynvolle beskrywing van ‘n baie eensame lewe.
Die skrywer van die artikel skryf oor haar: sy was iemand wat gesukkel het, uitgemergel, ‘n stem wat skree in die woestyn. Judith het nie daarin geslaag om liefde te vind nie: baie gegee, niks teruggekry nie.
Haar stryd was nie uniek nie. Sy was bang om oud te word, of vet, bekommerd dat sy nie sou trou nie, of nie swanger nie, of om net te oorleef. Sy het in ‘n woonbuurt gewoon waar jy gebly het indien jy eensaam was maar gelukkig gelyk het. Sy was ‘n verwarde mensie. Die helfde van haar lewe was ‘n fantasie, maar die helfte was ook ‘n nagmerrie. Suksesvol as sekretaresse, maar ‘n mislukking wat liefde betref. Sy het gesmag na mans met sjampanje en blomme, mans wat sou bel vir ‘n ordentlike afspraak, mans wat meer as net haar bed met haar wou deel.
Sy was nie ‘n prostituut nie, nie aan dwelms verslaaf nie, of van die welsyn afhanklik nie, nooit in die tronk nie, nie sosiaal onaanvaarbaar nie, heel respektabel. Sy het gedraf, partytjies gehou, ontwerpersklere gedra, ‘n baie mooi woonstel met ‘n lieflike uitsig gehad. En sy was baie alleen……
Sy skryf in haar dagboek: “Ek sien mense saam en ek is so jaloers dat ek wil opgooi. Wat van my?”
Al was sy omring met mense, was sy op ‘n eiland. Al het sy baie mense geken, het sy min vriende gehad. Al het sy baie minnaars gehad, het sy min liefde geken.
“Ek voel so oud, so ongeliefd, so ongewens, opgebruik. Ek voel ek wil huil en vir altyd slaap.”
Eensaamheid. Dit is ‘n snik, ‘n kreun, ‘n smartkreet. Kan jy dit rondom jou hoor? ‘n kind wat weggegooi is, iemand wat geskei is, ‘n stil huis, ‘n leë posbus. ‘n Verjaarsdag wat vergeet word. Die lang dae, die langer nagte. Ons sien en beleef dit elke dag tussen ons: Mense waarvan niemand weet dat hulle alleen is nie. Aan die buitekant perfek, jou glimlag is vinnig, jou werk is goed, jou klere is onverbeterlik, jou middeltjie is dun, jou afspraakkalender is propvol. Jy loop flink en regop, jy praat indrukwekkend. Maar as jy in die spieël kyk, flous jy niemand nie. Want wanneer jy alleen is, dan verdwyn jou dubbele lewe en jou pyn word ondraaglik.
Die ergste kreet om eensaamheid in die geskiedenis kom nie van ‘n gevangene of weduwee of pasiënt nie. Dit kom van ‘n heuwel af, van ‘n kruis, van ‘n Messias.
“My God, my God”, het Jesus uitgeskreeu, “waarom het U My verlaat?”
Nog nooit, het woorde al ooit soveel seer beskryf nie, nog nooit was iemand nog so eensaam nie.
† Vertaling van Levitikus 16: 20…
Die skare word stil wanneer die bokkie vir die priester gebring word, die perfekte bokkie. In ‘n gewyde seremonie sit die priester sy hande op die jong dier. Terwyl die mense toekyk, roep die priester uit: Die sonde van al die mense is nou op jou! Al die sonde van die Israeliete word op die onskuldige dier oorgedra: al die begeertes, die owerspel, die moedswillige ongehoorsaamheid is oorgedra van die sondaars na die bok, hierdie sonde-bok. Die Bok word dan na die rand van die wildernis gedra en daar losgelaat. Uitgeban. Want sonde moet gestraf word. “Gaan weg bok, Gaan weg!”
En die mense is ligter, en God is tevrede.
En die een wat die sonde dra is alleen….
En nou op Kopbeenheuwel is die een wat die sonde dra weer alleen. Elke leuen wat ooit vertel is, elke mis-daad, elke belofte wat ooit gebreek is, is op sy skouers. Hy… is… sonde…
En God draai weg: gaan weg bok, Gaan weg!
Die afkeer in wat gebeur is donkerder as die duisternis oor die aarde. Vader en Seun wat een was, is op daardie oomblik twee. Jesus wat vir ‘n ewigheid een met God was, is nou alleen. Christus is verlate. Die 3 Eenheid is gebreek.
En Jesus kan dit nie hanteer nie. Die martel en slae en koggel kon hy in stilte hanteer. Hy kon in stilte kyk hoe sy geliefde dissipels weghardloop. Hy het Hom nie teëgesit toe Hy verneder is nie, Hy het nie eers geskreeu toe die spykers deur sy hande en voete gekap is nie.
Maar toe God sy kop weg draai, was dit meer as wat Hy kon hanteer.
Hoekom het Jesus dit gedoen?
Dan bly ek dink aan die dagboek: Ek voel verlate, skryf Judith Bucknell. En sy skryf: Wie gaan ooit vir Judinth Bucknell lief wees?
En ons dink vanoggend aan ouers wie se kinders dood is, of ‘n vriend in die hospitaal, of aan ‘n ou mensie in ‘n inrigting of ouetehuis. Of aan weeskinders, of aan die kankersaal.
Ek dink aan almal wat hulle oë desperaat na die hemel toe oplig en vir God vra: Hoekom?
En in my verbeelding sien ek Hom. Ek sien Hom luister, ek verbeel my ek sien Jesus se oë vol trane wat met ‘n deurboorde hand my trane wegvee. En al antwoord Hy nie, weet ek: Hy verstaan!
‘n Storie vir Goeie Vrydag 2016
Daar is die storie van ‘n toegewyde man wat vir ‘n klomp nagte in ‘n ry aanhou roep het: “O God!” , “O God!”, “O God!” Hierdie gebed, so word vertel, was soet in sy mond. Toe kom die duiwel: “Jou geroep beteken nie veel nie. God antwoord nie”. Dis hartseer, maar toe hou die man op met bid. Maar in ‘n droom verskyn Christus aan hom: “Hoekom roep jy nie meer nie?” “God antwoord nie”, sê die man. “Ek is bevrees Hy verwerp my.” Toe praat God en sê: “Jou roep, “O God!”, is my roep: “Hier is Ek”. In jou seer en smeking dra Ek Myself aan jou oor. Jou begeerte om my te bereik is ‘n teken dat Ek jou nader trek aan Myself. Die nood van jou liefde is my guns aan jou. Die roep “O God!” is ‘n honderd keer: “Hier is Ek.”
† Jesus verwag nie dat ons perfek hoef te wees nie. Hy wil in ons nood by ons wees, in ons swakheid.
† Gaan na https://www.24-7prayer.com/podcasts/category/podcasts en kies die video oor The beloved betrayer.
† Elkeen kry geleentheid om jou swakheid en alleenheid vir God op ‘n papiertjie te skryf.
Nagmaal het die Israeliete herrinner aan hul uittog uit Egipte, waar hulle toe God hulle wou bevry van die Egiptenare, ‘n lammetjie moes slag, sy bloed aan die deurkosyne moes verf, dan sou hulle gespaar word, en dan moes hulle eet en op ‘n reis geneem word na die beloofde land.
Dit is vandag nog wat Goeie Vrydag beteken. Jesus is die Lam van God wat geslag is sodat ons nie hoef te sterf nie, en ons dink as ons Nagmaal gebruik aan die lammetjie wat geslag is en sy bloed wat ons kom red.
- Daarom gaan ons vir Nagmaal buitentoe stap, Nagmaal gebruik by tafel. Stukkie brood neem, doop in wyn, en dit eet.
- Dan verby die vuur, geleentheid om jou swakhede, jou alleenheid vir God te gee.
- Dan saal toe om ons te versterk. Israeliete moes nadat hulle lammetjie se bloed aan deurkosyne, eet om hulle te versterk vir die reis.
- God begin met elkeen van ons ‘n nuwe reis…..
Amen