Preek-Padkos – 18 Oktober 2015
Tema: Wie is jou Lasarus?
Teks: Lukas 16: 19 – 31
19“Daar was ‘n ryk man wat duur en deftige klere gedra en elke dag feestelik en weelderig geleef het. 20-21En daar was ‘n arm man met die naam Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van die ryk man se tafel te ete sou kry. Hy was oortrek van die swere en selfs die honde het daaraan kom lek.
22“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. 23Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: 24‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ 25Maar Abraham sê: ‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. 26En buitendien is daar ‘n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook nie na ons toe kan oorkom nie.’ 27Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe. 28Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ 29Maar Abraham sê: ‘Hulle het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ 30Hy antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.’ 31Maar hy sê vir hom: ‘As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan.’ ”
Die verhaal van die ryk man en Lasarus (Lasarus beteken: die Here het gehoor) help ons om raak te sien dat daar ‘Lasarusse’ rondom ons is wat ons as ons broers en susters deel moet maak van ons tafels. In die gedeelte vertel Jesus die verhaal van ‘n ryk man en Lasarus, ‘n arm kreupele melaatse man wat elke dag van die krummels van die ryk man se tafel leef. Dan sterf hulle, en Lasarus eindig in die hemel en die ryk man in die hel. Want vir mens vreemd is, is dat dit lyk asof die ryk man eintlik baie goedgunstiglik vir die arme Lasarus verdra het en so gesorg het. Hoekom eindig hy in die hel? En dan kom Jesus met die ontknoping: wanneer die ryk man vra dat iemand na sy 5 broers op aarde gestuur moet word om hulle te waarsku, wil Jesus eintlik sê dit is die oortreding van die ryk man: hy het nie net 5 broers gehad nie, maar 6. Ons moet die mense rondom ons nie soos objekte behandel nie, maar soos broers en susters!
Die gedeelte vra die vraag: wie is jou Lasarus? Na wie toe stuur die Here jou? Dit word vertel dat hierdie Skrifgedeelte omtrent ‘n 100 jaar gelede vir Dr Albert Schweizer so aangespreek het, dat hy ten spyte van sy 3 doktorsgrade, pos as lektor by ‘n universiteit en pos as bekende orrelis alles gelos het om in Midde-Afrika by die bevolking betrokke gaan raak het. Dit het sy hele lewe verander.
Wat verwag die Here van ons gemeente, en van jou? Wie is jou Lasarus
Mag die Here met ons gedurig besig wees hieroor.
Groete
Theo, Carel en André