Wie is ons

Belydenisverklaring

(Wie ons in Christus is en wat ons bely)

Suider-Paarl Gemeente is ’n gemeente wat deel is van die NG Kerk-verband,  wat geroep is om ’n ruimte  te skep vir gelowiges in en om die Paarl om self Christus se liefde te beleef, en om toegerus en bemagtig te word om dit uit te leef daar waar ons leef of gestuur word. Ons is ’n diverse gemeente, wat ruimte bied vir gelowiges van ander tradisies wat saamstem met ons geloofsbeskouing en fokusbedienings om voluit by ons in te skakel.

Die gemeente bestaan uit 1660 belydende en 730 dooplidmate en word tans bedien deur twee voltydse leraars, een deeltyds, sowel as ’n jeugwerker (vir die hoërskoolkinders en jong volwassenes) en ’n kinderkoördineerder (vir die laerskoolkinders), ’n maatskaplike werker en ’n digitale bestuurder, laasgenoemde spesifiek met die oog op nuwe en uitdagende tye vir die kerk.

Suider-Paarl Gemeente het twee kerkgeboue (bedieningspunte), naamlik in Courtrai (net onder die Afrikaanse Taalmonument) en in Klapmuts. Gelowiges van die Paarl, die omliggende “estates”, plase en Klapmuts-gemeenskap skakel by ons in. Ons beskou dit as ’n voorreg en roeping om ’n natuurlike geïntegreerde bediening by Klapmuts te hê. Die Laerskool Courtrai en die aftree-oord De Oude Renbaan val binne ons gemeentegrense.

Ons wil voortdurend geestelik onderskei wat die Here vir ons in gedagte het, en volgens ons gawes en met ’n leerbare gees hierdie reis onderneem. Ons glo ons is geroep om vir Christus, mekaar en ander te dien.

Website Icons-01

Ons doen dit deur die volgende beginsels (waardes) uit te leef:

  • Elke lidmaat word toegerus om volgens sy/haar gawes sy/haar geloof uit te leef;
  • Elke lidmaat word versorg soos wat daar behoeftes is;
  • Ons is ’n gasvrye gemeente, vrygewig met God se genade;
  • Ons leef ons geloof na buite, na waar die Vader ons heen roep.

Ons fokus spesifiek op die volgende areas:

  • Families: ons glo die Here roep verbondsgesinne om deel van sy kerk te wees;
  • Jeug: ons kinders het dit nodig om by tye in hulle portuurgroep bedien te word;
  • Getuienislewering: ons glo in Handelinge 1:8 se model van getuienislewering in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uiteindes van die aarde;
  • Toerusting en bemagtiging: Elke lidmaat het ’n rol om te speel as deel van die liggaam van Christus.

Eredienste is vir ons die sentrale gebeurtenis waar die Here weekliks aanbid word. Ons glo dat die gemeenskap van gelowiges, saambid en verdieping in die Woord baie belangrik is. Daarom wil ons gereeld lidmate aanmoedig om ook op ander maniere met ander gelowiges mee te leef. Dit sluit in kleingroepe, saamwerk met ander gemeentes en ander kerkverbande. Ons glo ons kan eensgesind wees, sonder om oor alles dieselfde te dink en te voel. Vir ons gemeente is die Koninkryk belangriker as ’n gemeente of ’n kerk.

Ons jaar tema vir 2024: