Begrafnis

BEGRAFNIS BY SUIDER-PAARL GEMEENTE

Hoewel die dood van ’n geliefde ’n groot verlies is waardeur ons diep bedroef word, gee die Here self Sy troos en bemoediging.

Hy het ons beloof dat Hy ons smart verlig, dat Hy ons met Sy liefde en krag bystaan en dat Hy verder met ons gaan.

Die Here Jesus het ook gesê: “Ek is die Opstanding en die Lewe. Wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.” (Joh 11: 25)

Deur Sy opstanding het Jesus die dood oorwin en kan die gelowige uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15: 54)

Daarom treur ons wel, maar nie soos die ander mense wat geen hoop het nie. (1 Tess 4: 13)

Deur die dood roep God die ongelowige mens tot bekering en Sy kinders tot ’n nuwe toewyding. Jesus het vir ons aan die kruis gesterwe sodat ons nie meer vir onsself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het en vir ons opgewek is.

Daarom sê ons saam met Paulus: “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.” (Rom 14: 8)

Aan Hom kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.